Kategese uitstappie - 8 Februarie 2015

'n Vrolike toneel het ons begroet toe ons by die hekke van die swembad-area ingestap het: vure wat brand, jillende kinders in die swembad en groepies ouers wat saam kuier.

Nadat elkeen 'n plekkie vir sy gesin uitgesoek het en gazebo's opgeslaan is vir beskerming teen die son, is daar afgesit na die sportvelde vir 'n bietjie pret. Die Junior Kategese het resies gehardloop en lekker speletjies gespeel met ballonne wat in die lug gehou moes word en met klein hoepels. Die Senior Kategese het volley ball en bankie-rugby gespeel. Selfs die ouers en kategete het 'n span gehad en het hulself nogal oortref! (Ek kan getuig van seer spiere later!)

Waatlemoene is opgesny - 'n heerlike lafenis na die "harde" spel. Daarna… is die teken gegee en die wat wou, het deelgeneem om mekaar lekker te "was" met die skille. Die ouens wat te skrikkerig was, het hulself gou uit die voete gemaak.

Ek is seker daarvan dat elkeen wat daar was dit baie geniet het, al het die son ons 'n bietjie bygekom!

Ek sien uit na die volgende Kategese Uitstappie! [Ingestuur deur Christel Opperman]

 

 

 

 



† Na bo †
© 2009-2024 NG Kerk Kraggakamma. Alle regte voorbehou.